News

‘n Kuggie in jou kudde, ‘n gat in jou sak

Griepseisoen is nie net ’n probleem as die daaglikse temperature val vir mense nie, maar ook vir ons vee. By beeste begin produsente dikwels nat en vuil neuse, verminderde voerinnames, stadiger groei en ’n daling in produksie oplet. Hierdie tekens hou dikwels verband met boonste en onderste lugweginfeksies – waarvan longontsteking, ook bekend as bontlong, een van die belangrikstes is.

Verskeie faktore verhoog die druk op ’n dier se immuunstelsel en skep so geleentheid vir siekte om te ontwikkel. Dit sluit in vervoer, speen, hoë parasietlading, ongunstige weerstoestande, veranderinge in voer en die vermenging van diere. Die lugweg beskik oor natuurlike beskermingsmeganismes soos slymvliese en silia (amper soos haartjies), maar ook oor ’n delikate balans van mikroorganismes. Wanneer hierdie balans versteur word, kan normale bakterieë skielik in groot hoeveelhede vermeerder, of siekteveroorsakende virusse en bakterieë kan die lugweg binnedring.

cow showing flu symptons

’n Goeie voorbeeld is Mannheimia haemolytica, ’n bakterie wat normaalweg in gesonde diere se lugweë voorkom. Onder stresvolle toestande kan dit vinnig vermeerder en gifstowwe produseer wat tot longontsteking lei. Respiratoriese virusse kan ook die lugweg beskadig, wat die weg baan vir sekondêre bakteriële infeksies. Stowwerige toestande en hoë ammoniakvlakke in krale beskadig die silia in die lugpyp, wat die dier se natuurlike verdediging verder verswak. Hierdie kombinasie van stres, virusse en bakterieë staan bekend as die Bees Respiratoriese Siektekompleks (BRS) of “shipping fever”.

Kliniese tekens van longontsteking sluit lusteloosheid, hangende ore, swak eetlus, vinnige en moeisame asemhaling, en soms ’n nat hoes in. Neusafskeidings kan waterig, slymerig of etterig wees, en koors bo 40 °C is algemeen. In ernstige gevalle kan kalwers vinnig vrek voordat hulle as siek geïdentifiseer word, of die siekte kan ’n chroniese verloop hê wat groei en prestasie ernstig benadeel.

Behandeling berus dikwels op antibiotika, aangesien entstowwe en bestuursprogramme nie altyd volledige beskerming bied nie. Breëspektrum‑antibiotika word gereeld gebruik om sekondêre bakteriële infeksies te beheer, selfs wanneer ’n virale oorsaak vermoed word. Tog bly voorkoming die beste strategie.

Voorafkondisionering speel ’n sleutelrol in die beperking van longontsteking. Dit sluit in:

  • genoegsame biesmelkinname,
  • vroeë kastrasie,
  • relevante inentings,
  • wurm- en bosluisbeheer,
  • speen op die plaas van oorsprong,
  • vervoer direk na die voerkraal,
  • en vitamien- en mineraalaanvullings om die immuunstelsel te ondersteun.

Longontsteking is ’n erosiesiekte wat produksie steel en winsgewendheid ondermyn. Met goeie bestuur, vroeë herkenning en tydige behandeling kan die impak daarvan egter beduidend verminder word.

Afrivet het verskeie produkte waaronder vitamien en mineraal aanvullings (soos bv. Ovi-Min Gel {RSA Reg. No.:  V24722 (Wet 36/1947)} en Bovi-Min Gel {RSA Reg. No.: V24721 (Wet 36/1947)}, elektroliet vervanging, soos Electro Guard NF Gel {RSA Reg. No.: V28622 (Wet 36/1947)} en antibiotika - Ultratet LA 200 {RSA Reg. No.: G3559 (Wet 36/1947)} wat boere kan gebruik om hulle kuddes onderskeidelik te ondersteun en behandel wanneer die longontsteking probleem sy kop uitsteek.

taking cow temperature
thermometer showing temperature of 40.8C

afrivet logo