News

Image
Image

This is Wolboer/Wool Farmer’s veterinary Q&A column, sponsored by Afrivet. Send your questions about animal diseases, biosecurity, and animal health management to This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. or This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it., and we will do our best to provide a practical answer.

Hierdie is Wolboer/Wool Farmer se veeartsenykundige vraag- en-antwoord-rubriek waarvoor Afrivet sy kundigheid verskaf. As jy vrae het oor dieresiektes en -gesondheid, stuur dit na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. of This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it., en ons doen ons bes om ’n praktiese antwoord te verskaf.

woolfarmer question lg

VRAAG:

Met die geregistreerde bloutong-entstof wat in hierdie stadium nie orals beskikbaar is nie, is ek bekommerd oor bloutong by my skape – wat kan ek doen om te verhoed dat hulle dit kry?

woolfarmer question lg

>> ANTWOORD

Suid-Afrika ervaar tans weer ’n baie nat somer, met reënval wat bogemiddeld is oor groot gedeeltes van die land, en alhoewel ons land water nodig het, kom dit nie sonder uitdagings nie. Een van die grootste uitdagings is sonder twyfel die toename in parasiete, en daarmee saam die siektes wat deur hulle oorgedra word.

Bloutong is berug onder skaapboere gedurende die nat somer- en herfsmaande. Die virus, ’n lid van die Orbivirus-familie, word oorgedra deur muggies wat in hierdie tyd van die jaar volop aangetref word. Ná besmetting vind vermenigvuldiging van die virus in die speekselkliere van die muggie plaas en word dit oorgedra na skape, beeste of wild wanneer die muggie ’n bloedmaaltyd neem. Skape word egter die ergste geaffekteer deur die siekte, met wild en beeste wat as reservoirs dien en slegs ligte kliniese tekens toon.

Vanaf infeksie met die virus duur dit ongeveer sewe dae vir kliniese tekens om te ontwikkel. Die virus tas die selle aan wat die bloedvaatjies belyn en dit lei tot verhoogde deurlaatbaarheid van die vaatjies, wat die tipiese kliniese tekens van die siekte veroorsaak.

Swelling van die lippe sowel as ander dele van die gesig, en soms ook die tong, vind plaas, gevolglik is daar afskeidings uit die oë, neus en mond.

Namate die siekte vorder, kan seertjies en nekrose (afsterf van weefsel) ook ontwikkel, veral in die mond en op die rande van die neusgate. Die geaffekteerde diere het koors wat vir ongeveer sewe dae duur, en wanneer die koors breek, is daar dikwels ’n rooi-pers band by die area waar die hoef by die vel van die been aansluit – hierdie inflammasie lei dikwels tot mankheid. Die koors het dikwels wolbreek tot gevolg – 3 tot 6 weke ná infeksie – en dit, tesame met die gewigsverlies wat met die siekte gepaardgaan, kan tot groot ekonomiese verliese lei.

Omdat bloutong ’n virus is, is behandeling simptomaties. Dit sluit in ondersteuning deur die toediening van mondelinge elektroliete, goeie versorging deur die voorsiening van hoë-energie-kos, water en skaduwee, asook anti-inflammatoriese behandeling soos voorgeskryf deur ’n veearts.

Voorkoming

Voorkoming is egter altyd beter as genesing, veral ten opsigte van virusse. Die enigste ware voorkoming van die siekte is deur middel van inenting. Die bloutong-entstof moet voor die reënseisoen toegedien word, en ten minste nege weke voor die dekseisoen begin, siende dat dragtige ooie nie geënt moet word nie. Die entstof bestaan uit drie komponente, A, B en C, wat elk vyf serotipes van die virus bevat. Die inentings word drie weke uitmekaar toegedien.

Tans staar ons egter ’n ernstige entstoftekort in die gesig en bykomende voorsorgmaatreëls en behandelings kan aangewend word om die oordrag van bloutong teë te werk:

  1. Die eerste manier is om die blootstelling aan muggies te verminder. Nat, laagliggende areas moet vermy word en siende dat muggies grootliks van skemer tot sonsopkoms aktief is, kan waardevolle diere gedurende dié tye op stal geplaas word. ’n Verdere aanbeveling is om wolgroei toe te laat gedurende die vroeë somermaande vir bykomende beskerming.
  2. Die tweede manier is deur die gebruik van insek-afwerende middels. Muggies is egter net een van die ektoparasiete wat tot probleme kan lei in uiters nat omstandighede – daar is ook ’n hewige toename in ander las- en bytende vlieë, sowel as muskiete. Vir beheer word middels aanbeveel wat piretroïed, soos deltametrien en sipermetrien, bevat. Die middels kan in dompeldip-, sproeidip- of opgietmiddel-formulasies aangewend word. Piretroïedbevattende insekdoder kan ook gebruik word om stalle waar die diere gehou word, te bespuit. Vir vlieë kan lokaasprodukte of insekgroei-regulerende produkte in die omgewing gebruik word om die las te verminder.

Parasiet- en siektebeheer loop beslis hand aan hand, en ’n holistiese benadering lewer altyd die beste resultate in die voorkoming van verliese. Ons hoop egter dat die geregistreerde entstof wat tans nie maklik verkrygbaar is nie, binnekort weer oral beskikbaar sal wees, want dit kan nie ontken word nie dat inenting steeds die doeltreffendste manier van voorkoming van baie siektes in ons land is, bloutong ingesluit.


Wolboer/Wool Farmer | Vol 10 Nr 1 • 2022

afrivet logo