News

Image
Image

This is Wolboer/Wool Farmer’s veterinary Q&A column, sponsored by Afrivet. Send your questions about animal diseases, biosecurity, and animal health management to This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. or This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it., and we will do our best to provide a practical answer.

Hierdie is Wolboer/Wool Farmer se veeartsenykundige vraag- en-antwoord-rubriek waarvoor Afrivet sy kundigheid verskaf. As jy vrae het oor dieresiektes en -gesondheid, stuur dit na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. of This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it., en ons doen ons bes om ’n praktiese antwoord te verskaf.

woolfarmer question lg

VRAAG:

Dit is weer amper lamseisoen – ek het die vorige seisoen heelwat diarree onder my lammers gehad. Wat kan diarree veroorsaak en wat moet ek doen om dit te voorkom?

woolfarmer question lg

>> ANTWOORD

Daar is min dinge so bevredigend as om te sien hoe jou skaapkudde groei en die lammers te sien baljaar, maar daar is ook min dinge so ontstellend as om te sien hoe jou lammers siek raak en selfs begin vrek as gevolg van ’n onbekende oorsaak.

Diarree kan tot hewige verliese onder jong diere lei, maar dit is nie altyd so maklik om die oorsaak daarvan vas te stel nie. ’n Korrekte diagnose is uiters belangrik om beheer en behandeling meer geteiken en effektief te maak. Kom ons kyk na die algemeenste oorsake sowel as behandeling en bestuursbeginsels wat kan help om diarree by lammers te beheer.

Oorsake

Klostridiale bakterieë is een van die patogene wat lei tot bloederige diarree, verlaagde melk-inname en vrektes onder lammers. Dié bakterieë affekteer lammers onder drie weke ouderdom en skei toksiene af wat ernstige skade aan die dunderm veroorsaak en tot vrektes lei. Om klostridiale infeksies te voorkom, is dit belangrik om dragtige ooie in te ent. Dit beskerm die lammers deurdat hulle die nodige teenliggaampies in die biesmelk inneem kort na geboorte. Lammers kan ook op die ouderdom van 4 weke ingeënt word vir verdere beskerming teen klostridiale infeksies.

Escherichia coli is ’n ander bakteriële infeksie wat tot diarree by lammers lei. Onder normale omstandighede vorm die bakterieë deel van die gewone mikroflora wat in die spysverteringskanaal aangetref word en lei nie tot komplikasies nie, maar wanneer dit gepaard gaan met ander virus- of protozoa-infeksies kan dit diarree tot gevolg hê en noodsaak dikwels behandeling met ’n antimikrobiese middel.

woolfarmer v10n2 pic2

Protozoa is die ander organismes wat dikwels verantwoordelik is vir diarree by lammers. Kriptosporidiose en koksidiose is twee tipes protozoa wat tot diarree, gewigsverlies, vertraagde groei, ontwatering en vrektes onder lammers kan lei.

Kriptosporidium affekteer grotendeels lammers jonger as 30 dae. Infeksie vind plaas wanneer lammers ’n infektiewe sist mondeling uit die omgewing inneem. Dit is baie moeilik om van die siste ontslae te raak wanneer hulle eers op ’n perseel is, maar goeie biosekuriteit en higiëne in areas waar ooie en hul lammers aangetref word, kan verspreiding van die parasiet voorkom.

Behalwe vir biosekuriteit
en voorkomende behandelings is goeie voeding, ondersteunende mineraalaanvullings, en wurmbeheer by ooie voor die lamseisoen uiters belangrik.

Daar is voorkomende middels soos halofuginaat-bevattende middels wat toegedien kan word om die uitskeiding van siste, wat in die mis van geïnfekteerde diere aangetref word, te verminder. Alhoewel dit besmetting van die omgewing verlaag, bly diere egter geïnfekteer en is higiëne en goeie biosekuriteitsmaatreëls steeds van die uiterste belang om verspreiding te bekamp.

Koksidiose is die tweede tipe protozoa wat diarree veroorsaak en affekteer lammers van vier weke tot vyf maande ouderdom. Die organisme word ook oraal ingeneem uit ’n besmette omgewing. Sowel toltrasurasiel-bevattende middels as sulfonamiede kan gebruik word vir die behandeling of voorkoming van die infeksie. Biosekuriteitsmaatreëls is egter hier ook uiters belangrik. Isolasie van siek lammers, voetbaddens wat chemikalieë soos natriumhipochloried bevat en tussen kampe gebruik word, die gebruik van ontsmettingsmiddels en die hantering van siek diere ná gesonde diere is beheer- maatreëls wat geïmplementeer kan word.

Elektroliete

Tydens enige periode waar diarree by ’n lam aangetref word, moet die belangrikheid van elektrolietaanvullings nie vergeet word nie. Ontwatering is een van die hoofredes waarom jong diere met diarree vrek, en mondelinge elektrolietaanvullings is ’n kardinale komponent in die behandeling van diarree.

Behalwe vir biosekuriteit en voorkomende behandelings is goeie voeding, onder- steunende mineraalaanvullings, en wurmbeheer by ooie voor die lamseisoen uiters belangrik. Dit sal lei tot gesonde ooie en optimale gehalte biesmelk wat voldoende immuniteit aan jou lammers verleen. Hoë wurmladings by ooie veroorsaak hewige besmetting van weidings met wurmeiers.
So word lammers op ’n jong ouderdom aan hoë wurmladings blootgestel, wat ook weer kan lei tot diarree en selfs vrektes. Dus is ’n strategiese wurmbeheerprogram ook uiters belangrik in die voorkoming van diarree.

Bogenoemde organismes is die algemeenste oorsake van diarree by lammers, alhoewel virusse soos rotavirus, skielike dieetveranderinge of oorvoeding met melkvervangers ook daartoe kan lei.

Omdat daar so ’n groot verskeidenheid moontlike oorsake is, is die korrekte diagnose uiters belangrik vir effektiewe, geteikende behandeling. Die waarde van ’n veearts se insette kan dus nie genoeg beklemtoon word nie. Akkurate diagnose sal verseker dat die regte behandeling en voorkomende maatreëls vroegtydig geïmplementeer word om verliese te voorkom.

Vinnige, daadwerklike optrede en korrekte diagnose tydens diarree- uitbrekings in jou kudde sal jou verliese bekamp, en die regte bestuurs- en behandelingspraktyke moet nooit onderskat word nie. Met dié benadering sal jy met ’n gevoel van bevrediging sien hoe jou lammers baljaar ná die volgende lamseisoen.


Wolboer/Wool Farmer | Vol 10 Nr 2 • 2022

afrivet logo